Rally - Blog
Jan 15, 2011

Valencia Spanje


Category:Budapest - Bamako

Na die vorige aand se 3 ure pakkery het ek gedog dit sal vinnig gaan vanoggend, toe nou nie. Nog so 3 ure se pakkery en ons durf die strate van Valencia met die buffel. Moet sê ons staan nogal uit. Ons het verdwaal en die detour om die stad gevat. die GPS is nie gelaai met Europa streetmaps nie en ook nie noord-Afrika streetmaps nie. Die Nuvi weet nie eers waar ons is nie. 'n Goeie 'old fashion" kaart van Spanje sou die lewe baie makliker gemaak het, ek google gou op die selfoon sodat ons net die name van die dorpe en route kan kry. 3 mede rally karre op die hoofweg gekry oppad na Almeria. Soos ons hulle verby gegaan het weet ons, ons loop sover in die wedren voor (die ander voertuie het vanoggend 3000km noord in Budapest weggespring......... dit maak ons vandag se wenners........ ha ha). Iewers ry ons die tolpad mis en ons is alweer op daai nou teerpad oppad na wie weet waarheen. Ons ry deur dorpies met stofstraatjies en ou spaanse ooms op trekkers. Ons ry deur wynlande, olyfboorde en lemoenboorde. Daar is nie One Stops nie, ek wee sommer in 'n oom se land langs die pad. Dis 4 uur en ons is honger, die eerste dorp wat opkom het 'n restaurant. Voor die deur hang 'n gordyn van kettings, dit moet hier wees, binne is daar baie mense, weet nie hoe hulle daar gekom het nie, want ons is die enigste kar buite. Ons eet 'n lieflike Spaanse ete, gekook oor regte kole in die kombuis. Ons ruk daai spaanse woordeboek uit en bestel 'n hoender, hy wys vir Johnny of hy die been of die middel wil hê -  die been sal dit wees. Ek eet die Calamari. Heerlik Hendrik, heerlik sê ek vir jou. Ons rekening is die astronomiese prys van 20 EUR vir 2 moerse borde kos met aartappels en groente, 2 biere en 2 cokes.

Ons kom donker in Almeria aan en skiet reguit vir die ferry kantoor. Die volgende ferry oor Morocco toe is 23:59 vanaand. Dis duur maar ons moet oor, die buffel se snorkel is nie lank genoeg nie. Ons kry sommer vir ons 'n slaap kompartement ook vir die aand. Ons het 'n paar uur om om te kry en ons besluit om die dorp te gaan verken. Ons neem die eerste afrit in die stad in, en ons eindig in die ou dorp, met strate wat gemaak is vir perdekarre en Uno Pinto's - nie moerse 4x4 voertuie uit Afrika uit nie. Na 'n verkeerde draai in 'n eenrigting in, is 6 kar "pile up" agter ons en 'n motorfiets wat van voor af op ons afgejaag kom, Ek wat 'n paar gille gee en mooi Affrikaanse woorde spreek..... besluit om maar eerder terug te keer na die port en te wag vir die ferry.

Met tyd op ons hande plak ons van die stickers op. Dis soos daai suvivor storie wat jy oor elkeen reminis soos jy sy sticker op die kar plak. Dit was 'n wonderlike ervaring. Dis koud en die wind waai en ons is oppad Afrika toe.

Ons kar is veilig op die ferry en ons is snoesig in ons kamer, 'n paar naar pilletjies en ons slaap heerlik tot die volgende oggend.