Rally - Blog
Mar 11, 2011

Cameroon - Ghana - Congo


Category:Budapest - Bamako

Waar begin ek, daar het soveel gebeur in die laaste paar dae.  En net toe ek vir myself sȇ - ag weet jy dis regtig nie so erg nie, mense maak dit baie erger as wat dit is.  Net toe, ek sȇ jou net toe – toe spat die kakkies!!  Ek het my swart vriend Sunday wat saam met my deur Nigeria gery het afgelaai voor die grens.  By daardie stadium was dit soos ‘n verhouding wat net moes eindig en 5 minute langer in my voertuig dan het ek deur die dak gegaan.  Ek het my spasie nodig gehad.  Die grenspos is redelik verlate so in die middel van die jungle.  Ek is deur die hele proses wat ek by hierdie stadium uit my kop uit ken; en die laaste oom wou weet waar my man is?  Ek het ‘n sing en dance uitgewerk wat ek vir almal vertel: dat my man saam met my getoer het tot ________ (die vorige stad) en toe word hy siek met malaria en moes terugvlieg SA toe, maar hy is nou beter en kry my weer in ________ (die volgende stad).  Net sodat hulle weet iemand verwag my iewers.  So ek het hom my sad storie vertel dat my man van Lagos af teruggevlieg het en dat ek hom in Yauonde kry.   Daar kry ek toe die uitkak van my lewe.  Hy wil weet hoekom ek nie saam met hom teruggevlieg het nie, ek het nog ge-mmm en ge-aaa, toe sȇ hy ek moet net weet dat lewe is baie meer werd as geld en hy kan nie glo dat ek my siek man alleen gelos het nie.  Kop tussen my bene is ek daar uit.

‘n Geroeste brug oor ‘n ongelooflike mooi rivier, verbind Nigeria en Cameroon.  Dit is ‘n stunning ‘Junglebook’ prentjie.  Aan die Cameroon kant, word alles net neergeskryf, maar geen stamps word gegee nie.  Dit kry ek iewers op die roete.  Hier sit ek 5 swart mans in uniform en 4 wat agter my staan met guns.  Hulle jag in die woud, hulle eet vanaand eend.

Daar bevind ek myself toe vrou alleen op die famous Ikom-Mamfe pad.  Geen ander voertuie, geen ander mense, geen ander enige iets nie.  Net ek.  Toe ek daar wegtrek toe oorval daar ‘n bangerige emosie wat ek lanklaas in my lewe ervaar het.  Ek gryp die satelietfoon en bel my arme man, ek moes net met iemand praat, iemand moet net weet waar ek is vir in geval ek wegraak, iemand moet net weet ek is skuitbang, iemand moet net weet dit is nogal scary. So tussen die snikke deur het Johnny geduldig getroos. Die pad raak modderig en ek stop vir ‘n foto.  Die  oerwoud is stil,  so snaakse stilte, ek kyk om my rond en besef dat dit is hoekom ek hier is en ek gaan okay wees. Ek ruk myself reg en besluit om die pad te geniet.

Ek is 3uur die middag in Mamfe en na ‘n groot gesukkel om die hotel te kry, bied ‘n man met ‘n drank-asempie aan om my  te wys.  Hy ry voor met sy kar wat met bloudraad aanmekaar vasgehou word.  Ek het geld en simkaart nodig.  Ek ry sommer saam hom.  Ek het nou al agtergekom dit is vir hulle groot status op die dorp as die ‘wit vrou’ saam hulle gesien word.  Ons ry wilde draaie en hy stel my aan almal voor.  Ek word genooi vir ‘n koeldrank en hy vra of ek belangstel om sy vrou te word.  Hy lig my in oor wit vrouens is net slimmer, mooier en ook skoner.  Ek was baie polite in my verduideliking dat ek wel getroud is, maar dankie vir die offer.  Hy wil my uitneem vir ‘n drankie en ete, weereens het ek laaaang stories oor werk op die computer en vroeg opstaan ens.

Die volgende oggend is Mr daar om my te vergesel uit die dorp uit.  Gedress in sy pienk hemp en al. Vir die eerste keer die hele roete kry ek vandag nog overlanders. ‘n Couple van Duitsland wat al aan en af 3 jaar op die pad is. Hulle toer het in Phillipense begin.  Hulle lig my in dat die pad blykbaar horibaal is.  Ja whatever – het dit nou al 100 keer gehoor.  Nou ja toe hulle woorde was skaars koud of daar begin dit.  Modder op modder op modder en saam met dit nou kronkelende paadjies deur die oerwoud deur.

Ek is oppad Younde toe, maar trek 7uur by klein dorpie in en vind hotel met aircon.

Ek ry 12uur Youande in met 20 polisie –en weermagpersoneel se name wat of wil trou of kom kuier.  Die idee was om dalk te oornag en op te vang op die blog met wifi.  Maar die chaos van die stede stres my op en ek maak ‘n b-line vir die grens.  By een van die padblokades word ek ingelig my vriende is net voor my. By die doane kry ek hul name en adres – Linden Johannesburg.  Janine ry na die huis toe en binne 5 min het ek ‘n tel nr.  Dit help niks. Hulle antwoord nie en die pa weet ook maar net hulle is in Afrika iewers.  Ek ry tot donker om die dorp van Oyem te maak, en die 2de hotel spoor ek nog ‘n GP kar op.  Ons ontmoet mekaar vir ete en my hopes is hoog dat hulle dieselfde pad as ek gaan volg.  Toe nou nie.  Hulle is nog vir 2 weke in Gabon op Holiday.  Wel ek het mos gesê ek wil dié alleen doen – lyk my ek gaan my wens kry.

Ons eet saam ontbyt en elkeen is in sy rigting.  Voor ek uit die parkade uittrek stop ‘n man my.  Vra uit oor waar ek vandaan kom en hy vertel dat hy in Johannesburg gestudeer het.  Dadelik maak ek van die geleentheid gebruik om uit te vra oor die pad en sim kaart.  Ek ry agter hom aan en vinnig is ek gesort.  Behalwe ek het nie geld getrek of petrol ingegooi nie.  MAAR op die kaart lyk dit nog soos redelike groot dorpe waardeur ek moet gaan voor ek afdraai.  Toe nou nie.

Oppad  Booue toe het ek die ewenaar oorgesteek.  Ek het 'n ou oom lift gegee en hom gevra om met sy krom vingertjies vir my foto te neem met bord wat ek self gemaak het. In Booue het Mr Janic vir my gewag – sy boetie die een in die ander dorp.  Onthou dis Afrika, almal het selfone en almal is familie.  Die oom by die ferry het gesȇ ek kan nie oor gaan nie. Baie gevaarlik – olifante, panthers, slegte paaie en geen villages nie.  Ek is ingebook in die local hotel in en het die vissop of vlakvark steak ‘n mis gegee.

7 uur is ek by die ferry - daar is niemand - 8 uur wag ek nogsteeds - 2 mans opgedaag en met die enjin doenig - 9 uur toe bel ek Janic en vertel vir hom mooi dat ek nou ry met of sonder hom. 9h15 daag daar ‘n bulldozer en stootskraper op om my te vergesel op my reis deur die Lopé Nationale Park.  Janic ry saam my en die ander agter my aan tot en met die pad beter is. Geen probleme.  Modder, maar nou al gewoond daaraan. Geen karre, geen mense en geen diere.  Ek laai my nuwe vriend af en groet.  Ek behoort Franceville te maak.

‘n Stunning gronpad lȇ voor.  Daar is geen dorpe, geen geld en geen petrol.  My tank is laag, maar ek sal dit maak.  Die liggie kom aan en ek het nog 50km om te gaan.  Ek bid soos nooit tevore nie. Ek free afdraendes en bid opdraendes, dan free ek weer, vryf buffelina se dak en sing liedjies soos “Liewe Jesus ek is klein”.  Wel iemand het gehelp daardie dag want op ‘n lee tank petrol het ek Lausterville ingery.  Daar is ook toe nou nie’n bank nie, ek kan ‘n ystervark koop vir aandete… Daar is ook net een vulstasie aan die einde van die dorp.  Dis Saterdag en pay-day.  Die partytjie vure brand en die groot bottels bier kom uit. Hier in midde Afrika kan jy nie goed in klein maat koop nie.  As ek coke bestel in ‘restaurant’ dan kry ek ‘n liter.  Die petrol pomp is stukkend en hulle het nou net herstel en is besig om dit toets.  Die eienaar vra of ek alleen is en of ek nie bang is nie.  My antwoord is eenvoudig ‘God is looking after me Sir’  Sy reply: “Madam you are very lucky because for 3 days the pump is not working, so I think God is looking after you”  Ek krap die laaste geldjies uit en hulle verseker my ek sal Franceville nog maak.

Jip ek het 30km gemaak toe die kar stop.  Net daar dood in die middel van die pad.  Ek probeer naarstigtelik die ding aan die gang kry, maar ter vergeefs.  Ek bid nou baja hard – maar dink my kwota vir die dag is op. Sluit die kar en begin stap.  Gelukkig het daar 1km terug ‘n trok in die modder vasgeval en hulle is besig om die uit te sleep.  Almal ignoreer my, terwyl ek probeer verduidelik ek het hulp nodig.  Ek stap maar terug kar toe, bel Johnny, sit my rooi 3 hoeke uit, haal die spares uit, haal my kar-matjie uit en kruip onder die kar in.  Daar lȇ ek toe vir ‘n oomblik.  My 1ste gedagte is dat die ou wat die bedrading op die kar gedoen het moet gefire word, want dit lyk nie goed nie. Tweedens is die kar baja vuil, maar wat wel interressant is, is die verskillende kleure modder – lyk kompleet of iemand dit so geverf het. Wel dis al wat ek sien. Johnny verduidelik dis aan die anderkant.  Ek wil nie lank daai kant lȇ nie, want my voete is in die pad, en ek het net my klein pienk toolboksie uitgehaal – hierdie is ‘n job vir serious tools.  Met die kom 3 mans aangestap om my te help. Ons rig niks uit nie. Die garage eienaar stop ook, nog ‘n liter bier in die hand, hy ry terug dorp toe om die elektrisiën te gaan haal.  7uur die aand besef ons almal niks help nie, hulle stel voor ek los die kar, ek stel voor ek slaap net daar. Hulle weier en sal my terugsleep dorp toe.  Die engelssprekende pigmee sit voor by my, en 2 hang van die kar af, ‘n 20 ton trok sleep my met ‘n bergpas af, ek lȇ op die brieke en vee so nou en dan die sweet, snot en stof uit my gesig.

Die pigmee help my die bult op met my tasse tot in die hotel, waar daar ‘n emmer met water in die hoek staan - dit was my shower. Was laas op veldskool so vuil. Ek het op die bed neergeval met die aircon op vriespunt gestel (hy het net een knoppie, f@kn koud of af) Ek het my fleece kombers oor my kop getrek en my laaste gebed die ewenaar ingestuur.

7uur is daar ‘n kort mannetjie voor my deur, die mechanic sal werk op ‘n sondag. Probleem: die petrol pompie binne die tank het uitgebrand omdat ek op empty gery het. Ek vertoef die oggend in die vulstasie en gee tools aan en kyk hoe die mense kom en gaan. 12uur is ek daar weg nadat ek die mense in dollars moes betaal.  Franceville uiteindelik.  Ek stop by die hotel op Tracks 4 Africa – hulle vol, die president slaap daar.  Ek vat ‘n taxi bank toe om geld te trek en julle sal nou nie vir my glo nie – die masjien lees nie een van my kaarte nie.  Taxi sȇ daar is ook niemand wat sal geld ruil nie – “ohh problem” , terug by die hotel sit ek en visvang in die lobby toe die dame my papier in die hand stop, Sy het een kamer vir my.  Net toe arriveer die president en sy possy met ‘n moerse comotion – Afrika style met motorfietse en ligte wat flikker en hooters wat blaas.  Ek moet my slaai in die kamer nuttig, want die president, hy eet hom in die eetsaal.  Ekke het nog nie geld nie.

7uur gedress voor die bank, 3 visa kaarte, geen luck, die 4de een spoeg daar toe geld uit. Dis soos om die jackpot by Sun City te slaan.  Ek druk hom sommer 4 keer terug en trek NOG geld.  Ek maak daai tanks vol petrol en vat die pad Congo toe.

Die Ewenaar

To travel or to dream of the equator:  Search for self – exploring aspect of you in order to become more whole……

Wel ek weet nie of dit die gravitasie is of wat nie, maar julle dink die Bermuda Triangle is bad. wag tot jy die ewenaar slaan.  Op die kaart is dit doenbaar, daar is dorpe, paaie en stuff.

Toe die res van die wêreld paaie gebou het het die Congo iets anders gedoen.  Soos Botswana het hulle besluit op die low volume high cost toerisme bedryf.  Behalwe hulle kry GEEN toerisme nie en hier is ook niks om te sien nie.  Die pad van Gabon af was geteer tot by ‘n T-aansluiting.  Links was – wie weet waarheen en Regs het gestaan “REPUBLIQUE DE CONGO”.  Toe gaan ek regs.  Die gronpad het net daar begin.  Die mense beskryf interressante ‘sand tracks’. Maar hierdie is ‘n grondpad, ‘n gewone 4x4 grondpad.  Dis toe net dat ek by myself dink “jy weet mense kan so oordryf…… dis Europeers wat niks gewoond is nie en dan maak hulle als erger” en net toe sit ek vas.  Die middelman is te hoog en dit briek die kar.  Ek reverse en vat hom met spoed, geen probleem  - sand kan ek ry. By die grenspos stamp die oom my paspoort en verduidelik 57km verder moet by die polisie stop vir nog ‘n stamp.  Ek bel Johnny en lig hom in dat als okay is en dit glad nie so erg is nie.  30 min later bel ek weer. “Baby my worst nightmare, ek sit vas in die modder en niks help nie en hier is niemand nie”  Daar begin die sports……………………………………………………