Rally - Blog
Feb 14, 2011

Valentines dag in Bamako


Category:Budapest - Bamako

Saterdag 12 Februarie.

(Ek sit nuwe stories by die sms updates wat op is as julle die detail versions wil lees, nuwe storie by Dogon! )

Ons arriveer in Bamako so 12 uur en is weer reguit oppad na Faso se motorwerktuigkundige boom toe.  Die kar moet gediens word en daar is 'n moerse klak geluid by die regterkantste wiel.  In gebare taal verduidelik ons die klak geluid en 2 sekondes later sê hy:  "ohh cv bla bla bla" in Frans natuurlik.  Ons vra hoeveel dit kos.  Dit ken ons al goed in die taal.  Die antwoord word neergeskryf en dis R400 vir die als.

Af in die straat boek ons by die naaste hotel in - 3* in Mali standaarde, 2 babapoeiers in my standaarde.  Maar ons kan die kar afpak, wasgoed was en daar is 'n airconditioner.  1 uur later is die kar gediens, olie getap, air filter geruil en cv joint is gefix.  Ons herrangskik alles in die kar en probeer van die sahara stof ontslae raak.  Die kinders help baie.  Elaina was die vensters en Jonathan strap alles vas wat los is.  Take away pizza's vir aandete.

Sondag 13 Februarie

Swarma's vir ontbyt by die Libanese restaurant en ons boek in die 5* L'Amatie in.  Elaina dink dis hemels en hulle drink coctails by die swembad.  Ek en Johnny laai foto's af sodat hy die back-up's terug huis toe kan vat.  5 uur shuttle na die lughawe en ek fight die trane terug.  Maar sussie se wal breek en toe ook myne.  Maak nie saak wat ek doen nie  -  die trane stroom sommer net oor my wange.  Hierdie is baie swaar, en ek het geweet dit gaan swaar wees.  Daar word besluit om my liewer af te sien as ek hulle.  Ons gee stywe drukke en snikke en soos ek wegry sien ek hoe my dogterjie se skouers ruk soos sy huil.  Die arme taxi bestuurder vra net verward "Se Bon?"  wat bedoel 'is jy okay?' .  Maar tussen die snotborrels en tissues skud ek net my kop.  Ek moet hard keer om nie verwoed te begin snik nie.  Ek vee trane af tot by die hotel en val op die bed neer en huil my huil.  Ek rol rond die hele aand - klasvakie wil nie kom nie

Maandag 14 Februarie

Vandag 22  jaar terug het Johnny my gevra om te trou en 4 jaar terug het ek met chemo begin.  My vriendin Yolandi begin ook vandag met chemo en ek huil sommer weer toe ek met haar praat.  Johnny en kids is veilig in SA, en hulle bagasie in veilig in Mali.  Ek terug lughawe toe om te sien of ek die bagasie kan uitken en seker maak dit kom op die volgende vlug.  Information - no speak English. Okay.... bagashe...... okay ek na arrivals toe, ek word deur al die bagasie geneem maar daar is niks.  Terug departures toe.   Die rep van Kenia air is nie daar nie, ek bel die Kenia Air se kantoor in die stad maar hulle sê hulle kan niks doen nie.  Die rep se tel nr werk nie.  Ek besluit ek gaan nie hier weg ry as ek nie dit uitgesorteer het nie.  Ek haal diep asem en is terug na 'INFORMATION' toe.  Die dik tannie met die mooi blou kopdoek lê nou en slaap op haar stoel.  "Pardon Madam" sê ek vriendelik.  "Can you please help me?, the tel nr is not working?" ; sy skud haar kop en kyk my aan asof ek mal is.  Nou moet ek kalm bly..... "please" , en weer skud sy haar kop.  Ek bel Kenia Air weer en sy sê sy kan net mooi niks doen nie.  Net toe kom 'n polisieman aangehardloop en gryp my aan my arm.  Hy wys in die rigting van 'n man met 'n MTN t-hemp.  Dis blykbaar die persoon na wie ek op soek is.  Hy verduidelik dat die tasse klaar weg is Dakar toe en dan Nairobi en dan Johannesburg.

Terug by die hotel, is dit ek en die padkaarte en GPS'se.  Ek skype my skypes en map my maps.  My valentyns ete is room service.  Ek moet my Malaria pille begin drink - die vorige 2 keer wat ek probeer het het ek ook 'n celestamine saam gedrink en dit het my vreeslik naar gemaak.  Ons het aangeneem dit is die kombinasie van die 2 tablette.  Ek sluk soos 'n soet dogtertjie my pille af en maak reg vir bed.  Nie lank nie of ek hang alweer oor die toilet se rand.  Hoe ironies.  4 jaar terug se valentyns dag het ek ook langs die toilet deur gebring, wragtig het ek 'n date met 'n toilet alweer.  Hierdie verhouding gaan moet einde kry.....!