Rally - Blog
Jan 19, 2011

Campsite - BEGIN VAN RALLY


Category:Budapest - Bamako

Die rally begin amptelik in die kampeer site.  Andrew (die organiseerder)  staan met sy pajamabroek en stoutjies in sy camper se deur en verduidelik in kort wat alles vandag voorlȇ.  Elkeen kry ‘n “race sheet” en woeps daar is almal missing.  Dit is die vreemdste gesig om al hierdie creature bymekaar te sien.  Daar is ‘n pommie in manelpak – kompleet met das en blink gevryfde skoene en sy  rally kar is ‘n lykswa.  Die spektrum van karre is alles waaraan jy kan dink.  Van groot geel Hummers met monster tuck-wiele  tot  karretjies wat uit een of ander Mr Bean movie uit kom.  Roomys vans, ambulanse, taxi’s en goed wat lyk of hulle nie eers kan ry nie. Party drink koffie, ander maak ontbyt , party borsel nog tande en slaan rustig kamp op – ander spring in hul karre en jy sien net een moerse stofstreep.  Ek en Johnny hang nog rond, ons moet ‘n  ‘tracking device’  in die kar installeer omdat ons in die racing kategorie is, anders moet ons afbeweeg na die ‘touring’ kategorie toe.  Die Hongaar wat nie ‘n woord engels praat nie verduidelik aan ons iets en ons skud net ons kop.  Hy moet eers check of ons al ons goed het (ons kry punte daarvoor ook) :  2 rooi driehoeke, noodhulp kassie, safety belts, kar registrasie papiere, bestuurderslisensie en ‘n GPS.   Ons slaag die toets.  Andrew stap oor in verduidelik vir ons dat ons maar ons 200 Euro deposito vir die opspoorstelsel  kan terug kry aangesien hulle die kabels van die stelsel  in Budapest vergeet het.  Hy roep die wedren organiseerders – 3 girls – en ek moet my regterhand op lig en agter hom aan sȇ  “Before the rally organisers, I promise I will not speed “   Wel met daardie formaliteit agter die rug is ons in die kar in oppad.

Die Budapest-Bamako Rally is soos die Amazing Race!  Jy het klomp koordinate vir die dag op verskillende roetes en jy moet probeer om almal te kry en jou roetes so te beplan dit jy by almal kan uitkom.  Johnny  het so bietjie verbouereerd begin, maar het darem die 1ste koordinaat ingekry.  Ons was reg in die algemene rigting –  “okay, okay, dis nou hier naby, okay 100m, 80m –  o fok ons is verby” Great! Ons draai daai 2 ton trok om en  probeer weer.  Ons sien spore en volg dit tot die pad doodloop  teen ‘n rivier.  Wel om ‘n baja lang storie kort te maak het ons nie die eerste 3 punte gekry nie.  Die besluit was dat ons die rally kategorie vir die dag maar ‘n mis gee en deur ry Marackesh toe vir ‘n lekker ete en ‘n toer deur die mark.  Ons het agter 2 Toyota’s beland  - Landruiser stasiewa’s op steroids – hulle het hul flikker aangesit om van die pad af te draai en ek het hulle blindelings gevolg.  Dit het vir my gelyk asof hulle weet waar toe hul oppad is. En ek het geweet hulle is in “racing”  -  op hierdie rally sien jy daai testosteroon baba’s op ‘n myl!

½ uur later kom ons tot stilstand teen ‘n bergpas van hel.  Daar is ‘n moerse skopgraaf en stootsrapers teen die pas en ons trek af sodat hulle die pad kan bou …… sodat ons kan verby ry.  Johnny spring uit om die Landcruiser Brigade te vra of ons oppad is na ‘n waypoint op die rally – Ja antwoord hulle.  Ons verduidelik ons dilemma met die GPS wat geen paaie wys nie.  “wel sȇ die Pool – hulle GPS het kaarte van Morocco.  Op daardie stadium was daar vir ons geen omdraai kans nie –

ons is oppad oor die Altas berge.  Ons is die berge op en die berge af.  In my lewe het ek nog nie sulke paaie aangedurf nie.  Op een stadium het die kar se wiele oor die afgrond gehang.

Albei GPS’e het nie ‘n clue gehad waar ons onsself bevind nie.  Enige inligting is net deur gegee as  “cannot calculate this route”  4 uur die middag is ons uiteindelik op ‘n een voertuig  teerpad  wat nogsteeds kronkel deur die berge. Om die volgende draai het ons Poolse maters gestop vir lunch – Johnny storm op hulle af en hulle laai gou vir ons die Marokaanse kaarte wat ons nodig het.  Ons het nou wragtig weermag toe gegaan sonder ‘n geweer – om so ‘n rally aan te pak sonder enige gelaaide GPS kaarte is blykbaar stupid. Wel ons het van daar af al die koordinate gekry wat ons moes en ons het 12 uur daai aand in die dorp ingery waar ek natuurlik by die eerste hotel  ingeboek het.

Ontbyt:  1 coke

Middagete:  1 Coke en 1 Water

Snack: 1 pakkie Woolies biltong sticks (wat ons gedeel het)

Aandete:  1 coke en 1 water

Kan nie sȇ ons dehidreer nie genoeg nie.