Rally - Blog
Jan 26, 2011

Ouarzazate (Atlantiese oseaan in die Noorde)


Category:Budapest - Bamako

Vroeg op - briefing is om 7 uur nog so 50 km uit die dorp.  Die dorpie  Ouarzazate is stunning, dit lyk soos 'n village uit een of ander cowboy fliek.  Die maan hang omtrent bo Afrika en bo die woestyn.  Ons ry nou van maansak tot maanopkoms.  Ons trek in by die kampeerplek, dis langs 'n ou pretrol stasie wat in een of ander fliek gebruik is.  Die briefing tyd was vervroeg en ons mis on race papiere vir die dag. Dis okay - ek is op en sien nie kans om die hele dag weer agter coordinate aan te jaag nie.

Ons stop by 'n garage vir 'n pipi brake en daar trek  nog 'n Toyota Landruiser stasiewa in.  2 ouens klim uit en vra waarheen ons oppad is vir die dag.  Ons verduidelik ons doen net die gewone roete om by die kamp uit te kom.  Hulle vra/smeek toe so half om te hoor of hulle saam met ons kan opteam aangesien hulle regtig bang is vir die Afrika ding.  Wel daar het ons toe 2 nuwe Romomeniërs vir vriende (of what ever jy iemand noem wat van Romenie af kom...)  Hulle wil net eers bier koop in die dorp, ons slep toe maar saam.   Hulle ry voor maar hul GPS het ook nie enige Morokaanse kaarte gelaai nie.  Elke 2de straat moet ons omdraai, want die 2tjies weet nie waarheen hul oppad is nie.  Hulle praat Frans en ons kan nie verstaan hoekom hulle so sukkel nie, wel dis omdat hulle so naief en half verward is.  Bier en vars produlte word gelaai en die pad is wes - reguit see toe.  Die roete vandag vat ons al langs die kus af verby die mooiste kusdorpies. Dan draai ons weg tot teenaan die see.  Jip, net 5 meter verder op die strand en die ander Cruiser sit vas.  Die bestuurder spring uit en skreeu histeries dat ons moet omdraai.  Ek ry tot langs hom en verduidelik dat dit glad nie 'n krisis is nie.  Ons blaas gou sy wiele af en 2 min later ry hy uit. Daar word gou gestop om foto's te neem.  Die Romeniër is bewoë  -  sy 1ste keer in Afrika en sy eerste keer dat hy die Atlantiese oseaan sien.  Jip daai oseaan daar onder by die Kaap  -  daai een wat net altyd daar is, daai een wat die drinks op Kampsbaai se prentjie inkleur, daai een waar die visserbote inkom met vars snoek, daai een wat die een helfte van Suid Afrika oppas.

Ons slaap vanaand by Fort Boudour - Italiaanse Fort gebou in wie weet wanneer.  Die afstand is nie ver nie, maar die GPS bly vir ons sȇ ons sal eers 11 uur daar wees.  En by hierdie tyd begin ek die GPS al glo.  Ons jaag soos mal goed rond, op en af met bergpasse, links en regs - die spot lights besluit om te groet.  Die organiseerder se 20 ton 'campervan' kom soos  Evil Kenievel verby gejaag en ek klim op sy hakke. Toe die campervan links draai is ek op sy gat en ek is tog te bly ek volg vir een keer iemand wat weet waarheen hy gaan.  Die pad word al hoe nouer en nouer en toe stop 'n Morokaanse oom in 'n lang wit rok ons en verwelkom ons by sy huis.  Ons is nie by die regte plek nie, maar ons is blykbaar welkom om te bly.  Almal praat of Hongaars, of Frans - kan enige iemand Engels praat asb.

Terug na die grooterige pad en die GPS wys ons beweeg al hoe verder weg - iewers het ons weer iets gemis.  Dis 10uur alweer!  Terug na waar ons vandaan kom is die enigste uitweg.  Die Romeniërs kom ook van die verkeerde kant af, en vir die hoeveeelste keer draai ons weer terug.  My genade daar staan die bordjie - weet glad nie hoe ons dit kon mis nie.  Dis 'n koevert grootte met die letter FB daarop geskryf.  Die pad is onbeskryflik sleg.  10 km neem ons weer 45 min.  Dis pik donker en die maan is nog nie op.  2 river crossings verder en ons stop by ontvangs.  Geld word sommer by die venster ontvang en ons slaan tent op.  Om alles te top, slaan ek nog vir ons 'n ete aan mekaar - Gebraaide tamaties & Uie + bully beef en vars brood.  Dit proe  kakkerig - nie so lekker soos ek dit kon onthou nie. Die temperatuur val na vriespunt toe en ons tande klap behoorlik op mekaar.  Ek loer uit die tent uit so teen middernag en sien hoe die maan opkom oor hierdie bar landskap, dit is my que, ek kan maar gaan slaap.